05 August 2011

Die wonder van seisoene





Het jy al 'n bol geplant....?


Goudgeel affodille, spierwit narcissus, helder piek dahlia's, aronskelke vol hoop of my eie gunsteling spesiale draai-kop tulpe in al die kleure van die reenboog... Elke keer as ek 'n bol liefderyk in die grond druk is daar 'n stille hoopvolle afwagting in my hart. 'n Uitsien na die vertoning van lewe en kleur en die vreugde wat hierdie wegsteekbolle my gaan bring.

En dan begin die wag....


Baie water op die leë akker, genoeg son op die kaal growwe grond en stille woorde van aanmoediging van hier binnekant. Uiteindelik steek 'n piepklein groen puntjie sy koppie uit tussen die growwe kluite - die begin van ‘n nuwe lewe. Ek verwonder my en dink altyd aan hoeveel krag dit moet verg om so gedetermineerd op te beur na die lig daarbo, sonder dat jy al ooit self daar bo was? ‘n Opgewondenheid vul my oor die seisoen wat nou aanbreek en op my wag....., maar daar is nog wag wat voorlê...., genoeg water, son op die tender blaartjies en beskerming teen al die peste en plae. As daardie eerste knoppie sy verskyning maak is als die moeite werd, maar steeds het hierdie outjie so baie nodig voor hy sy ware kleure sal kan wys.


Uiteindelik breek die dag onverwags aan en elke keer verras dit my opnuut - hoe perfek! Die blom is hier, hy staan daar met sy gesiggie in die son, met een doel voor oë en dis net om geniet te word, keer op keer.


Tot eendag, sonder waarskuwing - die koppie begin hang en die blare verwelk. Ek hou my hart vas, is dit nou verby? Ek kyk altyd verbete of daar nie dalk nog iewers 'n nuwe knoppie te siene is nie, maar helaas, die seisoen verander en hierdie een se tyd is verby. Ek los hulle altyd tot hulle helemal verdroog, ek kan dit nie oor my hart kry om hulle af te sny nie. Iewers het ek gehoor as jy hulle net los is daar hoop vir meer en daaraan hou ek elke keer vas. Later verdroog alles tot net die oorsponklike droeë kluite oorbly. En dan voel jy alles is verby....


Maar ek weet daar is hoop! Onder daardie droeë kluite lê vet vol bolle waarin ek my liefde gedeponeer het vir ‘n seisoen. Hulle wag net vir die volgende seisoen om weer hulle koppe uit te steek, hulle wag net tot die tyd reg is en as jy bolle ken sal jy weet dat hoe meer jy nou gee hoe meer kry jy volgende keer by hulle.


So daar is elke keer hoop vir die volgende seisoen en nog nooit was ek teleurgesteld nie......

02 August 2011

Die wingerd

Aan die voet van 'n heuwel, aan die duskant van die rand oppad see toe, le die wingerd wat 'n seisoen lank gehiberneer het, met sy voete stewig gewortel in die kleigrond. Die grond wat hierdie wingerd voed en versorg is self nog bedek met sy groen dekgewas-jas van die winter. In 'n ry staan die wingerdstokke, arm-aan-arm, en staar binne-land se kant toe tot daar doer waar die berge blou le. 'n Wingerd wat na sy wintersrus in afwagting wag op die nuwe seisoen - 'n nuwe begin.

Lenige, opgeskote lote skiet hemelwaars - ongeorden, deurmekaar, gejaagd en haastig ... En ek wonder? Is dit 'n desperate uitroep na bo, 'n smag na die nuwe begin? Of is dit 'n ongeduldige rebellie soos in babel se dae, 'n aandrang op 'n nuwe begin?

Weet die lote dan nie? Om prematuur jouself tot volwaardige wynstok te verklaar en in aksie oor te gaan beteken een van twee dinge: Jy word of deur die elemente vernietig omdat jy nog nie sterk genoeg is om op jou eie te staan nie, die val van 'n vooruitstrewende held. Of jy word van jou selfgeregtigheid en eiewaan gesnoei tot 'n nederige stokkie, deel van 'n stok.

Weet die lote dan nie? Hoe kan 'n dun, lenige, waai-in-die-wind loot vrug dra?

'n Weerbarstige wingerd word gesnoei tot orde - kaal gestroop van hoogmoed en 'n eiewilligheid.

Snoei is groei, 'n teenstrydige les wat geleer moet word want in ons verwysingsraamwerk gaan groei gepaard met meer, groter, beter.

Snoei is groei, 'n seer proses wat die wingerd sterker, gesonder, beter maak.

Ek staan aan die skadukant van die heuwel, kyk na die horison en sien ook 'n nuwe begin.

Ek is gewortel en standvastig gevestig op 'n Rots, ek is geseen met 'n seisoen van Reen, ek is deur 'n winterrus en het gewag, ek het vrug gedra selfs in die droogte tyd - ek sien uit na 'n nuwe seisoen, 'n nuwe begin.


"Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie." -Johannes 15:5

23 January 2011

Laslappie-bank


Ek vroetel myself lekker knus in tussen die bekende voue en kleure van my laslappie-bank.
En ek dink - hoe spesiaal is dit om 'n laslappie-bank te he wat daar is vir al die koffie-kuiers ; harsteer tye ; deurpraat van diep filosofiese sake, hartsake en sommer enige sake denkbaar ; die deel van blydskap en vreugde ; lees en leer ; deurdink en wonder oor goed en sleg, die verlede, die hede, en dit wat in die verskiet le ; bystaan en vasstaan ; baie praat, min praat, niks praat ; redeneer en argumenteer ; bepeins oor die groot en die klein dingetjies van die lewe ; bid ; lag en huil ; fees vier ; diep delf in die onuitputbare edelgesteentemyn van geestelike groei ; deel ; en leef!

My laslappie-bank is 'n kaleidoskoop van kleur en 'n komposisie van tekstuur, elkeen van die verskillende lappies is met liefde uitgekies en ingeweef.
Elkeen het 'n verskillende doel en betekenis, sommige is ingeweef vir kleur of patroon, ander vir gemak, 'n ander een is funksioneel, nog een is vir tekstuur ... so het elke stukkie lap sy plek om my bank 'n baie besonderse bank te maak.

Oo, sommige lappies werk glad nie langs mekaar nie - dit skree, of eerder skel, daarom is die komposisie van uiterste belang want in die groot prentjie van my laslappie-bank het elkeen sy spesifieke plekkie.

Ek vryf nostalgies oor al my lappies, party is al oud en die sagte fluweeltjies afgevryf van baie vat, tydlose vryflappies wat gemaak is om te bly deur dik en dun. Van hulle is van die oorsponklike lappies wat deel vorm van die "ontstaan" van my kleurvolle bank. Daar's dan ook lappies wat se kwaliteit glad nie was wat dit blinknuut in die winkel beloof het om te wees nie, vandag kyk ek teleurgesteld na hulle en vind hulle afgeleef, uit die mode en uit voeling met die "touch and feel" van die bank. Goedkoop is duurkoop.

Gepraat van duurkoop - daar's die paar duur lappies wat met die inweefslag my laat wonder het of ek nou die regte ding gedoen het, is dit die prys werd? Vandag weet ek dat my bank nooit bank sou kon gewees het sonder hierdie paar duursame en betroubare lappies nie.

My bank het ook kosbaar maar geskeurde lappies wat herstelwerk nodig het, die harsteer van die saak is dat ek nie weet of ek die regte kleur gare en die naald-vaardigheid daarvoor het nie, en of die lappies enigsins herstel kan word?

Seker van my lappies het al suksesvol herstelwerk ondergaan, en vandag wanneer ek oor hulle vryf is dit karaktervolle stukkies lap wat met tyd en liefde gestop is. Ongelukkig is daar ook geskeurde lappes wat uitgeknip is - vervang is.

Wat sal 'n bank dan ook wees sonder 'n paar lawwe, uitbundige lappies, wat uiroep - "moenie net hier sit nie, spring op my! Spring hoog!"

Daar is ook lappies wat in proses is - mooi, nuwe, opwindende lappies wat huidiglik in die mode is. Hulle het nog nie die toets van tyd deurstaan nie, tans word hulle in alle fasette geniet maar slegs tyd sal leer of hulle saam met my en my bank gaan oud word.

Elke hartslappie is met die hand uitgekies en ingeweef; spesiaal en uniek in kleur, vorm, patroon en tekstuur.
My laslappie-bank ; my ondersteuning.
My vriende!

26 October 2010

Vlerke


Ek is weer gevleuel - na maande van internetisolasie is ek nou uiteindelik weer "up and running" oftewel "up and flying".

Al was ek vlerkloos en julle nie intens bewus van my alledaagse vlugplan die afgelope paar maande nie, het ek nog steeds gevlieg : ups and downs, highs and lows.

Die eerste vlug was van 'n geleende mossienes na 'n arendse paradys. Hoe wonderlik om weer in ons eie nessie te wees met jou eie stokkies en vere as nesgoed.

Zack het onmiddellik sy vlerke gesprei en hy sweef nou nog op die warm windstrome. Hy het net so wonderlik aangepas en ingeskakel in die nuwe omgewing, by die nuwe skool, met 'n fantastiese juffrou, nuwe maats, nuwe kerk, nuwe alles - my sosiale vlinder wat oral waar hy kom mense aanraak my sy kleurvolle vlindervlerk vladder.

Luka-baba-arend kan weer ver sien en het ook net nadat ons ons intrek in die nuwe nes geneem het sy vlerke vir die eerste keer oopgemaak om met vlieg te eksperimenteer. Laat ek julle vertel, hy is gebore om te kan vlieg - hoog en ver. Ek vermoed dat selfs net sweef op die arms van die windstrome hopeloos te passief en 'n mors van goeie, aktiewe tyd is vir hom.

En op my sweef-swerftog die laaste paar maande het ek self 'n paar diep duike gemaak, maar gelukkig ook 'n paar hoogte-oomblikke beleef.

Ek het besef dat ek myself erens in die proses verloor het, en het weer myself gaan vind in die stilte aan die Here se voete. Gesien hoe lyk die dieptes van 'n donker gat en ook die vrymakende wind geleef op 'n bergtop met 'n asemrowende uitsig. Het deur 'n eensame, warm woestyn van honger en dors gesleep met verlange op my gebarste lippe en sout trane op my wange, maar het ook by die mees indrukwekkende watervalle gedrink, op sagte mos geloop en in soet poele lafenis ontvang. Het gehuil en gelag. Het geskel en gejubel. Was doof en het gehoor. Was 'n papie binne-in 'n styf toegeweefde koekon en het as 'n vlinder ontluik.

Wanneer ek vandag nabetragting hou en terugkyk voel ek amper soos die Phoenix wat uit die as verrys het.

En wanneer daar as is, moes daar 'n vuur en vlamme gewees het ... Ek is deur die vuur - gelouter en gesuiwer.

Uit die dowwe as verrys 'n helder skoenlapper wat na my "retreat" ondervinding vir my 'n simbool van genesing geword het ('n laaaaaaaaang storie wat begin skryf is in 2005).

'n Fenominale groeiproses van wurm na vlinder ... en raai wat? Die groeiproses is nog steeds 'n proses want hierdie vlinder mik na nog hoer hoogtes. 'n Transformasieproses van vlinder na arend, wat natuurlik beteken nog vuur en vlamme, nog hitte, nog groei!

Vandag op hierdie lieflike sonskyndag sprei ek my vlindervlerkies, geniet die windstilte in die tuin en vladder laag rond tussen die mooi blomme. Ek vladder lig rond met 'n verwagting dat die hitte van die son my vlerkies gaan wegskroei, dat die wind my gaan opwaai en dat sterk koninklike vlerkte gesprei gaan word om hoog bo die wind te sweef ... op arendsvlerke.

"But unto you who revere and worshipfully fear My name shall the Sun of Righteousness arise with healing in His wings and His beams, and you shall go forth and gambol like calves released from the stall and leap for joy" Malachi 4 vs 2.

23 March 2010

Huis op Rots


In my wereld kry 'n mens asblik-dae, waarvan julle deeglik bewus is, maar 'n mens kry ook pienk spookasem-dae. 'n Dag soet op die tong met fyn geweefde suikerwol wat te vinnig smelt en verdwyn, en dan taai vingers wat herinner dat die soete vreugde wel werklik was, van korte duur maar tog. En so is daar ek-voel-vet-dae; niks-in-die-wereld-kan-my-stuit dae; bemoerde dae (en dit het baie te doen met die wakkermaak proses); oppi-wolkie dae; muf dae; kuier-klets-en-lag dae; ... noem dit, in my wereld is daar 'n hele spektrum met kombinansies waarmee ek jou tot by die verste planeet en terug kan neem!

Raai wat? Ek het hierdie naweek 'n kermis-naweek gehad. Nee, ek was nie BY 'n kermis nie, ek HET 'n kermis-naweek GEHAD. Opgemaak uit al die lekkerte van spookasem, jaffels, toffie-appels, suiker en kaneel pannekoeke, tombola, skaap op die spit met karamel pampoenpoffertjies ... die hele ketoet.

Die lekkerte het begin met die fantastiese nuus dat ons komende Maandag in ons huis kan intrek. Mamma "butterfly" sal weer haar vlerke kan oopmaak en baba "butterfly" sal weer kan ver kyk (dis 'n ander storie). So is ek die naweek in, met 'n heerlike vooruitsig en verwagting wat in my hart borrel.

Vrydag-aand en Saterdag is gevul met sommer lekker laagle en muf na 'n week van swoeg, ploeg, sweet en spartel. Party van ons het meer geswoeg, ander meer geploeg of sommer gesloeg en aarde gekoop, ander het gesweet in die son (partykeer onder die wasgoeddraad en ander kere op die strand), en ander het weer gespartel wat natuurlik hand-aan-hand gaan met skop en skree.

Sondag het Willi-hulle 'n "Feast of the grape" by Meerendal gehad waar so 50 gaste kon deel wees van die wynmaak proses. En omdat ek met Mnr Botha getroud is, was ek 'n eregas. Vroeg skop die dag af met koffie en beskuit, waarna almal met 'n trekker en wa wingerde toe vervoer word waar jy ge"issue" word met 'n snoeisker en krat; met die vol kratte is ons weer terug werf toe waar 'n heerlike ontbyt wag. Elkeen was net verantwoordelik om 1 krat vol te maak, en almal is eens dat dit harde werk is. Liza die wynmaker vertel dat die mans ongeveer 350 en die vroue 100 sulke kratte per dag volmaak gedurende parstyd. Daarna word die korrels ontstam en in "bins" gegooi - ek noem die goed sommer hokke en dit word vreeslik snaaks gevind? Toe begin die groot pret - skoene uit, broeke opgerol en almal in die bins om wyn te trap, dis amper lekkerder as om kaalvoet in diep modder te loop. Na die hele prosedure, wat hande, voete en bene afspuit insluit is ons begelei op 'n keldertoer. En dan natuurlik die wynproe, met 'n heerlike kaas en wyn middagete.

Dit was wonderlik lekker! Zack het die wa ryery baie geniet, en die natspuit van die maat gedurende ons keldertoer.

Ek het ge"MENS", dit was heeeeeeeeerlik ... en nog beter ons het 3 couples van die area ontmoet wat ganse van ons dam is! Nuwe huisie jy gaan ingewy word met gaste - kan julle glo?

Saterdag is afgesluit met ons viertjies wat laatmiddag stand toe gaan, en ons doen wat elkeen van hou om te doen. Willi sit met tone in die sand en kyk vir die see, Luka kruip rond en eet sand, skulpe en watookal eet, Zack in die vlak branders en ek wat die hele spul saam met my sleep om te gaan stap ... voete in die water.

Sondag was 'n belewenis van 'n heel ander aard. Ons het kaartjies gekoop vir die "Kaapstad vir Jesus" geleentheid en besluit om van die Metrorail se dienste gebruik te maak, want dit was so geadverteer in die koerante en aangesien Zack nog nooit trein gery het nie en al so baie gevra het. Die treinrit was vetpret en soos ons by die stasies stop en al hoe meer mense opklim kom die sing los en 'n spontane praise en worship ontpop. Op die stasie in Kaapstad waar die treine vanuit alle rigtings bymekaar kom is daar duisende mense wat saamdrom van al die verskillende personne - verskillende kulture, verskillende tale, verskillende groeperings, maar in eenhied - en lofprysing dreun tussen die treine deur wat die aarde laat bewe.

Die res van die dag was 'n finominale belewenis in die nuwe Greenpoint staduim (ek sal foto's stuur) - AWESOME! Soos ons aan die einde van die geskiedkundige dag straat af stap terug stasie toe saam met 'n klomp vreemdelinge wat soos vriende voel besef ek 'n groot ding het vandag nie net vir Suid-Afrika gebeur nie maar ook vir my - 55 000 mense het gehelp dat my wortels vandag geanker is. Ek is geplant in hierdie mooi stuk aarde aan die voet van Tafelberg, vandag is ek gegrond!

Ek voel tuis - hierdie is my huis, hierdie is my plek!

Soos Laurika sing :
"kom wind, kom weer, kom oseaan, dit is 'n Rots waarop my huisie staan"

02 March 2010

Kortgeknip

Dis Maandag, die begin van 'n nuwe week - my hart is stil opgewonde oor die week en vol onuitgesproke verwagtinge. Vrydag se uitdagings nou vervang met planne en oplossings.

Die N2 in Kaap toe vloei en die gestoei van die Johannesburg verkeer voel soos 'n vae droom, Tafelberg staan forstelik op die horison sonder 'n wolkie naby haar voorkop en die musiek in my ore voltooi die prentjie. Dit gaan 'n mooie dag wees..., ek gaan diep spore trap.

Remligte voor my ruk my prentjie skielik uitmekaar. Johannesburg is in my neusvleuels en op die krop van my maag. Kruipend beweeg ons geduldig al nader aan die blou ligte. Nekke word al langer en die remligte getuig van die nuuskierigheid van die mensdom.

Langs my op die geelstreep gewaar ek 2 nuwerwetse bruin leerskoene. Nonchalant le hulle net daar, soos die van 'n tiener langs sy bed na skool, gereed vir ma om op te tel en in die kas te bere.

Iemand het eendag vir my gese as jy skoene langs die pad sien le kan jy maar weet die eienaar daarvan het in die slag gebly - skynbaar is die impak en die slag te groot en ons mensvoete besef laaste wat aangaan.

Ek kruip by die stewels verby en aan die oorkant van die pad le die stille getuienis van hierdie waarheid. Toegegooi, net een skoonwit voetsool wat uitsteek en stil getuig van wat eens was. 'n Verslae man staan kop onderste-bo eenkant en probeer sin maak van hierdie maandag oggend. Ek voel hoe my hart ineenkrimp vir 'n skare mense wie se lewens vandag onheroeplik verander.

Kortgeknip.

Ten minste twee mense se lewens is 'n paar minute gelede kortgeknip. Vol verwagtinge oppad met planne vir die dag in die hart. Nooit kon enige een droom dat vanmore so sou wees nie - alles net so onverwags kortgeknip. Toe hy sy skoenveters vasgemaak het was dit moontlik met 'n vasberade doel voor oe sonder die gedagte dat daardie skoene op die N2 sal getuig. Toe hy sy motor se heel neus in die rigting van Tafelberg gestuur het was sy bestemming nie dieselfde plek op die geelstreep as die eienaar van die skoene nie.

Die kortgeit van ons bestaan spoel eensklaps deur my. Ons is so vol planne en so vol verwagtinge van waar ons oral spore moet trap, ons vergeet dat ons spore in 'n oogwink doodgevee kan word. Ons moet gereed wees; more is moontlik nie nog 'n dag nie.

Ek wens ek kon hom waarsku om reg te wees voor hy vanmore sy bruin veters vasgemaak het, of was hy?

Asblikdag


Het jy al ooit aan die einde van 'n dag gekom en wanneer jy jou voet van die pedaal oplig besief jy dat dit nie 'n orrelpedaal was nie, want jy het nie vandag musiek gemaak nie; dit was ook nie 'n petrolpedaal nie, want jy het nie vorentoe beweeg nie; maar wel die asblik se trappedaal ... en jy hoor die kenmerkende "ke-kling" van die val van die deksel ... en jy weet vandag was 'n asblikdag!

'n Dag propvol gemors wat op een plek hoort en dis die asblik - 'n gemorsde dag.

Tyd is so 'n kosbare ding en tog gaan ons onverskillig roekeloss daarmee om, mors en verkwis tyd asof jy dit wat op die vloer geval het weer later kan optel of dit wat weggegooi is weer kan herwin.

Vandag is vandag - opgemaak uit slegs 24 uur met elke minuut en sekond wat vir homself sorg en wanneer verby nooit weer elders aangewend kan word nie.

Wanneer jy aan die einde van die dag kom en besef dit was 'n asblikdag het jy twee keuses. Jy kan in absolute berou ingaan en gou-gou deur al die gemors in die asblik grawe om te kyk of daar nie dalk iets is wat gered en weer gebruik kan word nie. Klink vir my soos goeie tyd agter slegte tyd aangooi? Maar dit is absoluut my opinie vanuit my persoonlikheid - het nog nooit op 'n skat tussen gemors afgekom nie.

Of jy lig jou voet, stap weg en kyk jouself reguit in die siel en vind uit waarom het hy gekies om vandag 'n asblikdag te maak. Want more is nog 'n dag met 24 kosbare ure, en more moet jy weer 'n keuse maak - gaan jy musiek maak, gaan jy rustig cruise, gaan jy 'n wedren jaag, gaan jy besoedel?

Dit is altyd sleg om aan die einde van 'n dag te kom en te besef dat ek nie vandag my lewensmotto wat "carpe diem" is geleef het nie; en nog slegter wanneer jou verjaarsdag 'n asblikdag was -
te min lag, te veel huil
te veel verlang na goeie vriende,
en hopeloos te min koek en wyn.

Maar nou ja, genoeg ge-hmmmm en haaa geen koek en tee, die deksel het geval en die beslissings het geke-kling ... more is 'n nuwe dag.

voetgangers