Dis Maandag, die begin van 'n nuwe week - my hart is stil opgewonde oor die week en vol onuitgesproke verwagtinge. Vrydag se uitdagings nou vervang met planne en oplossings.
Die N2 in Kaap toe vloei en die gestoei van die Johannesburg verkeer voel soos 'n vae droom, Tafelberg staan forstelik op die horison sonder 'n wolkie naby haar voorkop en die musiek in my ore voltooi die prentjie. Dit gaan 'n mooie dag wees..., ek gaan diep spore trap.
Remligte voor my ruk my prentjie skielik uitmekaar. Johannesburg is in my neusvleuels en op die krop van my maag. Kruipend beweeg ons geduldig al nader aan die blou ligte. Nekke word al langer en die remligte getuig van die nuuskierigheid van die mensdom.
Langs my op die geelstreep gewaar ek 2 nuwerwetse bruin leerskoene. Nonchalant le hulle net daar, soos die van 'n tiener langs sy bed na skool, gereed vir ma om op te tel en in die kas te bere.
Iemand het eendag vir my gese as jy skoene langs die pad sien le kan jy maar weet die eienaar daarvan het in die slag gebly - skynbaar is die impak en die slag te groot en ons mensvoete besef laaste wat aangaan.
Ek kruip by die stewels verby en aan die oorkant van die pad le die stille getuienis van hierdie waarheid. Toegegooi, net een skoonwit voetsool wat uitsteek en stil getuig van wat eens was. 'n Verslae man staan kop onderste-bo eenkant en probeer sin maak van hierdie maandag oggend. Ek voel hoe my hart ineenkrimp vir 'n skare mense wie se lewens vandag onheroeplik verander.
Kortgeknip.
Ten minste twee mense se lewens is 'n paar minute gelede kortgeknip. Vol verwagtinge oppad met planne vir die dag in die hart. Nooit kon enige een droom dat vanmore so sou wees nie - alles net so onverwags kortgeknip. Toe hy sy skoenveters vasgemaak het was dit moontlik met 'n vasberade doel voor oe sonder die gedagte dat daardie skoene op die N2 sal getuig. Toe hy sy motor se heel neus in die rigting van Tafelberg gestuur het was sy bestemming nie dieselfde plek op die geelstreep as die eienaar van die skoene nie.
Die kortgeit van ons bestaan spoel eensklaps deur my. Ons is so vol planne en so vol verwagtinge van waar ons oral spore moet trap, ons vergeet dat ons spore in 'n oogwink doodgevee kan word. Ons moet gereed wees; more is moontlik nie nog 'n dag nie.
Ek wens ek kon hom waarsku om reg te wees voor hy vanmore sy bruin veters vasgemaak het, of was hy?
02 March 2010
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment