26 October 2010
Vlerke
Ek is weer gevleuel - na maande van internetisolasie is ek nou uiteindelik weer "up and running" oftewel "up and flying".
Al was ek vlerkloos en julle nie intens bewus van my alledaagse vlugplan die afgelope paar maande nie, het ek nog steeds gevlieg : ups and downs, highs and lows.
Die eerste vlug was van 'n geleende mossienes na 'n arendse paradys. Hoe wonderlik om weer in ons eie nessie te wees met jou eie stokkies en vere as nesgoed.
Zack het onmiddellik sy vlerke gesprei en hy sweef nou nog op die warm windstrome. Hy het net so wonderlik aangepas en ingeskakel in die nuwe omgewing, by die nuwe skool, met 'n fantastiese juffrou, nuwe maats, nuwe kerk, nuwe alles - my sosiale vlinder wat oral waar hy kom mense aanraak my sy kleurvolle vlindervlerk vladder.
Luka-baba-arend kan weer ver sien en het ook net nadat ons ons intrek in die nuwe nes geneem het sy vlerke vir die eerste keer oopgemaak om met vlieg te eksperimenteer. Laat ek julle vertel, hy is gebore om te kan vlieg - hoog en ver. Ek vermoed dat selfs net sweef op die arms van die windstrome hopeloos te passief en 'n mors van goeie, aktiewe tyd is vir hom.
En op my sweef-swerftog die laaste paar maande het ek self 'n paar diep duike gemaak, maar gelukkig ook 'n paar hoogte-oomblikke beleef.
Ek het besef dat ek myself erens in die proses verloor het, en het weer myself gaan vind in die stilte aan die Here se voete. Gesien hoe lyk die dieptes van 'n donker gat en ook die vrymakende wind geleef op 'n bergtop met 'n asemrowende uitsig. Het deur 'n eensame, warm woestyn van honger en dors gesleep met verlange op my gebarste lippe en sout trane op my wange, maar het ook by die mees indrukwekkende watervalle gedrink, op sagte mos geloop en in soet poele lafenis ontvang. Het gehuil en gelag. Het geskel en gejubel. Was doof en het gehoor. Was 'n papie binne-in 'n styf toegeweefde koekon en het as 'n vlinder ontluik.
Wanneer ek vandag nabetragting hou en terugkyk voel ek amper soos die Phoenix wat uit die as verrys het.
En wanneer daar as is, moes daar 'n vuur en vlamme gewees het ... Ek is deur die vuur - gelouter en gesuiwer.
Uit die dowwe as verrys 'n helder skoenlapper wat na my "retreat" ondervinding vir my 'n simbool van genesing geword het ('n laaaaaaaaang storie wat begin skryf is in 2005).
'n Fenominale groeiproses van wurm na vlinder ... en raai wat? Die groeiproses is nog steeds 'n proses want hierdie vlinder mik na nog hoer hoogtes. 'n Transformasieproses van vlinder na arend, wat natuurlik beteken nog vuur en vlamme, nog hitte, nog groei!
Vandag op hierdie lieflike sonskyndag sprei ek my vlindervlerkies, geniet die windstilte in die tuin en vladder laag rond tussen die mooi blomme. Ek vladder lig rond met 'n verwagting dat die hitte van die son my vlerkies gaan wegskroei, dat die wind my gaan opwaai en dat sterk koninklike vlerkte gesprei gaan word om hoog bo die wind te sweef ... op arendsvlerke.
"But unto you who revere and worshipfully fear My name shall the Sun of Righteousness arise with healing in His wings and His beams, and you shall go forth and gambol like calves released from the stall and leap for joy" Malachi 4 vs 2.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Amen, amen, AMEN!!
ReplyDelete