Aan die voet van 'n heuwel, aan die duskant van die rand oppad see toe, le die wingerd wat 'n seisoen lank gehiberneer het, met sy voete stewig gewortel in die kleigrond. Die grond wat hierdie wingerd voed en versorg is self nog bedek met sy groen dekgewas-jas van die winter. In 'n ry staan die wingerdstokke, arm-aan-arm, en staar binne-land se kant toe tot daar doer waar die berge blou le. 'n Wingerd wat na sy wintersrus in afwagting wag op die nuwe seisoen - 'n nuwe begin.
Lenige, opgeskote lote skiet hemelwaars - ongeorden, deurmekaar, gejaagd en haastig ... En ek wonder? Is dit 'n desperate uitroep na bo, 'n smag na die nuwe begin? Of is dit 'n ongeduldige rebellie soos in babel se dae, 'n aandrang op 'n nuwe begin?
Weet die lote dan nie? Om prematuur jouself tot volwaardige wynstok te verklaar en in aksie oor te gaan beteken een van twee dinge: Jy word of deur die elemente vernietig omdat jy nog nie sterk genoeg is om op jou eie te staan nie, die val van 'n vooruitstrewende held. Of jy word van jou selfgeregtigheid en eiewaan gesnoei tot 'n nederige stokkie, deel van 'n stok.
Weet die lote dan nie? Hoe kan 'n dun, lenige, waai-in-die-wind loot vrug dra?
'n Weerbarstige wingerd word gesnoei tot orde - kaal gestroop van hoogmoed en 'n eiewilligheid.
Snoei is groei, 'n teenstrydige les wat geleer moet word want in ons verwysingsraamwerk gaan groei gepaard met meer, groter, beter.
Snoei is groei, 'n seer proses wat die wingerd sterker, gesonder, beter maak.
Ek staan aan die skadukant van die heuwel, kyk na die horison en sien ook 'n nuwe begin.
Ek is gewortel en standvastig gevestig op 'n Rots, ek is geseen met 'n seisoen van Reen, ek is deur 'n winterrus en het gewag, ek het vrug gedra selfs in die droogte tyd - ek sien uit na 'n nuwe seisoen, 'n nuwe begin.
"Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie." -Johannes 15:5
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment