05 August 2011

Die wonder van seisoene





Het jy al 'n bol geplant....?


Goudgeel affodille, spierwit narcissus, helder piek dahlia's, aronskelke vol hoop of my eie gunsteling spesiale draai-kop tulpe in al die kleure van die reenboog... Elke keer as ek 'n bol liefderyk in die grond druk is daar 'n stille hoopvolle afwagting in my hart. 'n Uitsien na die vertoning van lewe en kleur en die vreugde wat hierdie wegsteekbolle my gaan bring.

En dan begin die wag....


Baie water op die leë akker, genoeg son op die kaal growwe grond en stille woorde van aanmoediging van hier binnekant. Uiteindelik steek 'n piepklein groen puntjie sy koppie uit tussen die growwe kluite - die begin van ‘n nuwe lewe. Ek verwonder my en dink altyd aan hoeveel krag dit moet verg om so gedetermineerd op te beur na die lig daarbo, sonder dat jy al ooit self daar bo was? ‘n Opgewondenheid vul my oor die seisoen wat nou aanbreek en op my wag....., maar daar is nog wag wat voorlê...., genoeg water, son op die tender blaartjies en beskerming teen al die peste en plae. As daardie eerste knoppie sy verskyning maak is als die moeite werd, maar steeds het hierdie outjie so baie nodig voor hy sy ware kleure sal kan wys.


Uiteindelik breek die dag onverwags aan en elke keer verras dit my opnuut - hoe perfek! Die blom is hier, hy staan daar met sy gesiggie in die son, met een doel voor oë en dis net om geniet te word, keer op keer.


Tot eendag, sonder waarskuwing - die koppie begin hang en die blare verwelk. Ek hou my hart vas, is dit nou verby? Ek kyk altyd verbete of daar nie dalk nog iewers 'n nuwe knoppie te siene is nie, maar helaas, die seisoen verander en hierdie een se tyd is verby. Ek los hulle altyd tot hulle helemal verdroog, ek kan dit nie oor my hart kry om hulle af te sny nie. Iewers het ek gehoor as jy hulle net los is daar hoop vir meer en daaraan hou ek elke keer vas. Later verdroog alles tot net die oorsponklike droeë kluite oorbly. En dan voel jy alles is verby....


Maar ek weet daar is hoop! Onder daardie droeë kluite lê vet vol bolle waarin ek my liefde gedeponeer het vir ‘n seisoen. Hulle wag net vir die volgende seisoen om weer hulle koppe uit te steek, hulle wag net tot die tyd reg is en as jy bolle ken sal jy weet dat hoe meer jy nou gee hoe meer kry jy volgende keer by hulle.


So daar is elke keer hoop vir die volgende seisoen en nog nooit was ek teleurgesteld nie......

No comments:

Post a Comment

voetgangers