23 March 2010

Huis op Rots


In my wereld kry 'n mens asblik-dae, waarvan julle deeglik bewus is, maar 'n mens kry ook pienk spookasem-dae. 'n Dag soet op die tong met fyn geweefde suikerwol wat te vinnig smelt en verdwyn, en dan taai vingers wat herinner dat die soete vreugde wel werklik was, van korte duur maar tog. En so is daar ek-voel-vet-dae; niks-in-die-wereld-kan-my-stuit dae; bemoerde dae (en dit het baie te doen met die wakkermaak proses); oppi-wolkie dae; muf dae; kuier-klets-en-lag dae; ... noem dit, in my wereld is daar 'n hele spektrum met kombinansies waarmee ek jou tot by die verste planeet en terug kan neem!

Raai wat? Ek het hierdie naweek 'n kermis-naweek gehad. Nee, ek was nie BY 'n kermis nie, ek HET 'n kermis-naweek GEHAD. Opgemaak uit al die lekkerte van spookasem, jaffels, toffie-appels, suiker en kaneel pannekoeke, tombola, skaap op die spit met karamel pampoenpoffertjies ... die hele ketoet.

Die lekkerte het begin met die fantastiese nuus dat ons komende Maandag in ons huis kan intrek. Mamma "butterfly" sal weer haar vlerke kan oopmaak en baba "butterfly" sal weer kan ver kyk (dis 'n ander storie). So is ek die naweek in, met 'n heerlike vooruitsig en verwagting wat in my hart borrel.

Vrydag-aand en Saterdag is gevul met sommer lekker laagle en muf na 'n week van swoeg, ploeg, sweet en spartel. Party van ons het meer geswoeg, ander meer geploeg of sommer gesloeg en aarde gekoop, ander het gesweet in die son (partykeer onder die wasgoeddraad en ander kere op die strand), en ander het weer gespartel wat natuurlik hand-aan-hand gaan met skop en skree.

Sondag het Willi-hulle 'n "Feast of the grape" by Meerendal gehad waar so 50 gaste kon deel wees van die wynmaak proses. En omdat ek met Mnr Botha getroud is, was ek 'n eregas. Vroeg skop die dag af met koffie en beskuit, waarna almal met 'n trekker en wa wingerde toe vervoer word waar jy ge"issue" word met 'n snoeisker en krat; met die vol kratte is ons weer terug werf toe waar 'n heerlike ontbyt wag. Elkeen was net verantwoordelik om 1 krat vol te maak, en almal is eens dat dit harde werk is. Liza die wynmaker vertel dat die mans ongeveer 350 en die vroue 100 sulke kratte per dag volmaak gedurende parstyd. Daarna word die korrels ontstam en in "bins" gegooi - ek noem die goed sommer hokke en dit word vreeslik snaaks gevind? Toe begin die groot pret - skoene uit, broeke opgerol en almal in die bins om wyn te trap, dis amper lekkerder as om kaalvoet in diep modder te loop. Na die hele prosedure, wat hande, voete en bene afspuit insluit is ons begelei op 'n keldertoer. En dan natuurlik die wynproe, met 'n heerlike kaas en wyn middagete.

Dit was wonderlik lekker! Zack het die wa ryery baie geniet, en die natspuit van die maat gedurende ons keldertoer.

Ek het ge"MENS", dit was heeeeeeeeerlik ... en nog beter ons het 3 couples van die area ontmoet wat ganse van ons dam is! Nuwe huisie jy gaan ingewy word met gaste - kan julle glo?

Saterdag is afgesluit met ons viertjies wat laatmiddag stand toe gaan, en ons doen wat elkeen van hou om te doen. Willi sit met tone in die sand en kyk vir die see, Luka kruip rond en eet sand, skulpe en watookal eet, Zack in die vlak branders en ek wat die hele spul saam met my sleep om te gaan stap ... voete in die water.

Sondag was 'n belewenis van 'n heel ander aard. Ons het kaartjies gekoop vir die "Kaapstad vir Jesus" geleentheid en besluit om van die Metrorail se dienste gebruik te maak, want dit was so geadverteer in die koerante en aangesien Zack nog nooit trein gery het nie en al so baie gevra het. Die treinrit was vetpret en soos ons by die stasies stop en al hoe meer mense opklim kom die sing los en 'n spontane praise en worship ontpop. Op die stasie in Kaapstad waar die treine vanuit alle rigtings bymekaar kom is daar duisende mense wat saamdrom van al die verskillende personne - verskillende kulture, verskillende tale, verskillende groeperings, maar in eenhied - en lofprysing dreun tussen die treine deur wat die aarde laat bewe.

Die res van die dag was 'n finominale belewenis in die nuwe Greenpoint staduim (ek sal foto's stuur) - AWESOME! Soos ons aan die einde van die geskiedkundige dag straat af stap terug stasie toe saam met 'n klomp vreemdelinge wat soos vriende voel besef ek 'n groot ding het vandag nie net vir Suid-Afrika gebeur nie maar ook vir my - 55 000 mense het gehelp dat my wortels vandag geanker is. Ek is geplant in hierdie mooi stuk aarde aan die voet van Tafelberg, vandag is ek gegrond!

Ek voel tuis - hierdie is my huis, hierdie is my plek!

Soos Laurika sing :
"kom wind, kom weer, kom oseaan, dit is 'n Rots waarop my huisie staan"

2 comments:

  1. Ai, toe huil ek te heerlik soos ek al verder lees. Van die trane is vir jou omdat jy aan die einde van n stuk barre pad is en n nuwe pad deur die wingerde vir jou wink, van die trane is omdat ek so bly is jy het ganse van dieselfde dam gekry, van die trane is omdat ek weet van sulke spookasem dae en van die trane is omdat julle nie meer hier is nie en ek sommer nou GEWELDIG verlang. Die teuels kan nou gelos word want die perd veg nie meer nie! Hie Ha!!!!!

    ReplyDelete
  2. Eisch my vriendin, daar moet nog heelwat water in die see loop voor die perd gery gaan word - maar al hoe meer dele van die legkaart begin vir my in plek val, ek sien die prentjie maar heelparty stukkies moet nog ingekleur word en het aandag nodig. Vertel jou alles wanneer julle kom kuier ...

    ReplyDelete

voetgangers