My ouma is in ‘n naartjie, my meisie in kaneel … en die Botha’s in ‘n neutedop – toe en kompak.
Dit laat my nogals dink aan ‘n wurm wat toegespin is binne-in sy koekon; dan eendag kom daar ‘n skoenlapper uit wat kan vlieg. Maar nou wil ek vir julle vertel van ‘n ander koekon storie. Hier in ons neutekop waar ons bly sien ek nou die dag sulke klein, plat, ovaalvormige goedjies wat teen die muur vas is. Lyk amper soos ‘n klein blaartjie maar die kleur is bruin-grys.
En raai wat? ‘n Dag of wat later maak die snaakse plat blaarding ‘n opening aan die stokkie kant en ‘n klein wurmpie wriemel daar uit. Sukkel-sukkel om uit te kom, lyk kompleet of hy die blaar agter hom gaan aansleep soos ‘n karavaan.
Ek ”wurm” beslis op hierdie stadium maar is gereed om in ‘n vlinder te verander. As dit ‘n kaap ding is om van wurm/mot (ek weet mos nie waar kom die blaarkoekon vandaan nie) na wurm te transformer hol ek sommer nou al die heuwels in … sommer terug karoo toe want ten minste weet ek daar is vlinders. Die klein wit vlindertjies wat elke jaar hier rondom februarie maand hul avontuurvlug karoo toe vlieg. Ja, goed – hulle sterf daar, maar ten minste sterf hulle as ‘n vlinder en nie as ‘n wurm nie.
Hierdie wurm is vandag goed beneuk en al die ander neutedop bewonders ontgeld dit! ‘n “Oop ruimte vriendin” bel vroeër om te hoor hoe gaan dit en hoe “cope” ek in die neutedop, want sy wil nie vir my in groendakkies kom kuier nie. Ek verseker haar dat sy niks het om oor bekommerd te wees nie, want as ek uitbreek / oppak / inkonk verruil ek wraggies nie een hok vir ‘n ander hok nie! Hou eerder weer die karoo dop, daar op die ope vlaktes – dis waarheen ek sal hardloop.
O ja, die een met die rooi gesig, want as die hitte hierdie kant van die berg my amper onderkry weet ek nie wat gaan die karoo sonnetjie se hitte met my maak nie?
Nuwe insig – ek bly eerder dié kant van die berg, die koeler kant. Want vandat het ek my beneuktheid agter ‘n strykyster weg gesweet!!! Laat dit nou ‘n lessie wees vir die een wat sommer karoo kant toe wil hardloop.
En vir die van julle wat nie geweet het nie – dis NIE Red bull wat jou “wings” gee nie, maar wel ‘n kar.
Van ‘n vlerklose wurm (vlinder in proses) aan die Busy Bees van Gauteng.
NS: ek hoor vanaand aan etenstafel dat dit vandag 38˚C was … dit het seker vandag gereën in die karoo?
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment