01 February 2010
Tyd
Tyd … en ruimte – die plek waar ons onsself bevind, die nóú.
Tyd vorm ‘n tydlyn wat dan ook al die gisters insluit, die pad wat ons gestap het om ons by die plek van “nou” uit te bring. En dan ook die tydlyn wat in die toekoms nog moet gestipuleer word, al die môre’s … die verwagting.
‘n Goeie vriend verduidelik verwagting aan die hand van die prentjie in jou kop (wat jy natuurlik self geskets het) en wanneer jy dan met die tydlyn aanstap en die deur na môre oopmaak word die verwagting ‘n realiteit.
Dit is gewoonlik dáár, met die oorgang van vandag wat gister word en môre wat vandag word, waar die moeilikheid begin … die prentjie en die realiteit lyk nie dieselfde nie!
Kom ek bring julle in my prentjie.
Verlede jaar Januarie toe ek en Willi Meerendal besoek het was ek uit my kas opgewonde en my gemoed het gehuppel en gebokspring met ‘n verwagting! Maar toe Willi sy onvrede met my deel, het ‘n stille gedagte (wat ek glo die Heilige Gees is) net by my opgekom : “dis nie nou jou tyd nie”, en ‘n onbeskryflike vrede het die teleurstelling heeltemal oorskadu.
Die res van die storie is geskiedenis – dis ‘n jaar later en ons bly in die kaap, dit is die realiteit van vandag.
Terug by verwagting, of dan wel die prentjie, uit die aard van die saak het ek net weer die opgewondenheid wat ek Januarie neergelê het opgeneem – amper soos Phoenix. Met die verskil dat ek hierdie keer ‘n lekker GROOT canvas gekies het en vir myself ‘n mooie prent geskilder het.
Vanoggend, dink ek, het ek vir die eerste keer regtig begin rondkyk en gesien wat agter die deur aan die gang is – die realiteit in die oog gestaar. Want sien, ek het die kaap-kamerdeur oopgemaak en mý canvas begin soek … en kon dit nie vind nie! Het begin wonder of ek in die regte studio is? Wou omdraai (julle onthou die karoo) en die regte kamer gaan soek.
Mý canvas (prentjie / verwagting / wat jy dit ookal wil noem) is nie in hierdie kamer nie, want vir my het niks verander sedert Januarie nie : “dis nie nou jou tyd nie”! Dit is baie sleg wanneer jou verwagting met realiteit swaarde kruis – en raai wie wen altyd?
Verwagting vir môre is ‘n bliksem, maar drome is ‘n perd van ‘n ander kleur.
Die lank en die kort – tans is ek ‘n “discourage perfectionist” (The birth order book deur Kevin Leeman) en het “fractured faith” (Spirit of Prophecy deur Bill Burns) … maar ek hou vas aan drome, ‘n pit wat ek weet God in my hart geplant het. In Prediker lees ek van “Elke ding het sy tyd soos God dit bepaal. Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd.”
Daar word nie eers gepraat van ‘n dag nie, maar wel die “bepaalde uur”; nogals op die punt, né?
Ek glo dat my droom ook deel vorm van “elke saak”.
“Tyd om te ween en ‘n tyd om te lag
‘n tyd om te weeklaag en ‘n tyd om van vreugde rond te spring
‘n tyd van soek en ‘n tyd van om verlore te laat gaan”.
Ween & weeklaag = realiteit
Lag & van vreugde rond spring = prentjie
So, ek dink hierdie verwelkte boom van realiteit moet vrek sodat die pit van drome kan begin groei om êrens in die toekoms (hopelik ‘n vertrek of wat vorentoe) diep wortel te skiet en om vrug te dra. En ek het al geleer om nie vas te klou aan dit wat jy so graag nou wil hê nie, want daarmee keer jy eiehandig die groei van die pit en word die belonging van die toekoms net uitgestel.
Verlore laat gaan = realiteit
Soek = prentjie
“Release” – een van jul plantasie se bome is afgekap en het vandag met ‘n plof op die aarde neergeval.
Snaakse gevoel – half oorbluf, maar tog ook ‘n mate van verligting, asof die tien ton wa wat ek gesleep het nou agter gelaat is. Sal die pit nou mooi moet versorg want hoop beskaam nie …
***
‘n Ander realiteit is dat ons in die Kaap bly! Het gister pikkewyne gaan kyk by Simonstad; Chapman’s Peak gery; vis & chips geëet by Houtbaai se hawe; saam met my seun duine uitgehardloop en af gegly; bote gekyk by Kaapstad se hawe; en vandag ‘n wonderlike dag op die strand spandeer.
DIT is ‘n baie mooie prentjie!
Van ‘n Pit wat besig is om vlerke te kry.
NS: Willi sê dis hoe ek en hy verskil – hy’s nog oppad na die prentjie en dit ontvou so met die tyd saam, maar dan is ek al daar … ek verstaan nie mooi wat hy bedoel nie? Dis seker ‘n “prophet” ding.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment