01 February 2010
tussen die boom en die bas sit ‘n gogga vas
Aan al my Boom vriende,
Net voor ons uit Pta weg is het iemand voorgestel dat ek my belewenisse joernaal/dagboek en dit dan e-pos omdat dit ‘n maklike manier is om in kontak te bly met mekaar … (o, die dissipline, julle gaan maar moet geduldig wees met my)
En ek het besef dit kan ‘n wonderlike emosionele uitlaatklep wees na mense wat verstaan, omgee en sal support, want na ons George ervaring is ek so effe skrikkerig vir die Kaap. “Gogga maak vir baba bang”, waar gogga in die geval ‘n groepering geslote-kring individue is wat hulself kapenaar noem en baba ‘n “babe van Gauteng” – neem kennis, kapenaars met ‘n kleinletter en Gauteng met ‘n hoofletter.
Kom ons begin by die begin … maar waar is die begin?
Die jaar toe die boom sy eerste vrug gedra het?
Die seisoen toe die boom sy eerste blare uitgestoot het?
Die tyd toe die plantjie deur die grond gebreek het?
Die dag toe die saad onder die grond weggesteek ontkiem het waar niemand dit kon sien nie?
Of die dag toe die saad in die grond geplant is?
Of wat van die dag toe die moederboom die saadjie op die vleuels van die wind gegooi het?
Sien, die begin is nie altyd die begin nie – daar was alreeds ‘n begin lank voor die begin!
Kom ons begin by “’n” begin wat begin het met ‘n propvol gepakte motor, 2 kinders agter in die karstoeltjies en ‘n treurwilgeboom wat by Silver Willows uitry en ween vir die eerste plek ( vir die van julle wat al die Redemptive gift kursus gedoen het, “ween” is nie ‘n prophet woord nie, die gebruik hiervan is ter wille van julle –die prophet version is : ek het my gat af getjank).
Die wolwesang was toe van korte duur, 20 minute om presies te wees. Nie omdat dit ‘n uit die oog uit die hart scenario was nie, maar omdat die motor krag verloor het teen die Rigel opdraende en ek besluit om af te trek. Dit verstaan ek absoluut en gee nuwe betekenis aan “ek het nie krag vir hierdie geween het”, want ek sou ook uitge”clutch” het by die aanskou en aanhoor daarvan.
So kom my broer se woorde “kom terug” tot vervulling wanneer ek ‘n uur later die sirkel roete voltooi en inry by Silver Willows. Min wetende dat ek, Zack en Luka 8 ure later Kaap toe sou vlieg vir ‘n naweek by die see saam met vriende! Hoe bederf kan jy wees, en hierdie keer was daar geen trane, geween of gekners van tande nie, net ‘n dolle gejaag om betyds te wees.
Zack geniet die vliegery baie en speel die naweek sy gô uit saam met sy tjommie. Die afrol by die duine het ‘n reuse indruk op hom gemaak. Vir my voel dit net so onwerklik om met my tone in die sand te sit, waar ek veronderstel was om nog nie eers halfpad Kaap toe te gewees het nie.
Een aand in die bed tob ek oor ‘n vraag wat ek uit 2 verskillende oorde ontvang het – “Is jy nou gereed om ‘n kapenaar te word?”. Wat beteken dit? Wat is die antwoord? En hoe meer ek wonder, hoe meer besef is : Hier kom ‘n groeikurwe. George was pre primer – hierdie is “a bit more advanced”.
Hierdie boom wat so welig in ‘n fantastiese plantasie gegroei het is ontwortel.
Daar kleef nog van die ou grond aan my wortels vas, maar hierdie boom moet in die grond kom, weer verenig word met die aarde. Maar waar? Gaan die boom hier aard? Wie gaan hom natgooi en versorg?
So baie vrae en so min antwoorde. Vladderende skoenlappers het nes gemaak binne-in die boom se stam. Die blare hang en is verwelk. Hierdie boom is ‘n bietjie broos … en ek tjank my gat af oor ‘n 2jarige en sy kruiwa!
Somerset Wes het gehoor – hier’s ‘n nuwe ontwortelde weenwolf in die kontrei.
****
Die plekkie waar ons tans bly se warm en koue krane is omgedraai. Toe Willi met sy eerste werksdag wag en wag en wag vir die water om warm te word, het hy net die belewenis gehad van “all is not what it seems to be”. Dat ons ons vooropgestelde idees by die venster moet uitgooi, want dinge gaan andersom werk.
Raai wat? Dit is nie die tipe gewaarwording wat ‘n broos, ontwortelde boom baie opgewonde maak nie – inteendeel, dit maak my so effe ongemaklik.
Goeie raad van ‘n goeie vriendin – moet nooit vir die kapenaars sê hulle kan nie bestuur nie! Maar sekerlik kan ek dit vir julle, my liefste Gauteng maters, sê – die kapernaar kan wragtig nie bestuur nie. Kan enige iemand vir my vertel waar hulle lonte weggesteek is, want ek wil dit regtig graag aan die brand steek.
Deel van my daaglikse “survival kit” wanneer ek huis verlaat is ‘n kaartboek. Altyd op die uitkyk vir nuwe en korter paaie het nou die dag gesorg dat ek Zack 3 ure van Meerendal tot by die huis gery het (gewoonlik ‘n 30-45 minute trip). Ek het beter kennis gemaak met Kuilsrivier, Parrow, Goodwood … heeltemal die verkeerde rigting vir die van julle wat die Kaap ‘n bietjie beter ken! Maar ek gaan beslis eendag weer in daardie rigting want ek’t ‘n reuse “Toy factory shop” raak gesien.
Ons het in die week by die restaurant op Meerendal middagete geëet, wat ‘n belewenis? Die kos is wonderlik, maar ek sit daar en verwag enige oomblik dat ‘n kliënt gaan opvlieg en ‘n tantrum gaan gooi oor die stadige diens! Maar nee, almal is SUPER rustig en kuier asof tyd iets is wat nog ontdek moet word. Ek was net so verbaas … een helfte van my (die vinnige kant) kan nie glo wat my oë sien nie en wil ‘n bietjie rebelleer, maar die ander kant (beslis die onderontwikkelde deel) dink dat dit dalk die manier van “wees” is?
Ons 4’tjies en ouma is saterdag-oggend gou-gou vir 3 ure strand toe – wat ‘n wonderlike dag. Kan dit werklik ons lewe wees?
En DAN sak sondag-middag/aand op my toe soos die groot pes – ‘n donker, diep gat wat die lewe uit my hele wese pers en my moeg, moedeloos en eensaam eenkant toe slinger.
Laat ek nie heeltemal op so ‘n laagtepunt groet nie … of miskien moet ek, dan kom kuier julle dalk sommer gou? (as dit nou nie manipulasie is nie, weet ek darem nie?)
Willi is in die wolke – geniet elke oomblik
Zack harloop orals (by die see, op die plaas, ens) soos die wind dat jy net hare sien waai
Luka is soos die wind – dan hier, dan daar en jaag sy ma deurmekaar
Ek? – is die gogga : tussen die boom en die bas sit ‘n gogga vas.
Lief vir julle
VERLANG so vreeslik baaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaie na julle!
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment