Voetspore
'n Dowwe plof van voete in 'n stofpad ...
die sagte insak in klam seesand ...
die glibberige wegsak in vrugbare modder ...
die natstreep oor badkamerteels ...
... alles voetspore ...
'n Stem wat uiroep: "Ek was hier!
Ek is!
Ek los iets agter, nie noodwendig
tot voordeel of tot nadeel nie -
net die blote feit van 'n ek wat
bestaan."
'n Ruk gelede het ek 'n artikel deur Max Lucado van 'n vriendin ontvang met die volgende titel "Read your life backward". En dit het my laat dink aan voetspore.
Om 'n blik terugwaarts te kan gee het hy nodig om op jou voetspore terug te stap. Die rede hiervoor is om te sien waarheen jou Godgegewe pad vorentoe lei. Wat dan inderdaad beteken om tot stilstand te kom; doodstil in jou voetspore te staan; te wag en te luister voordat jy 'n tree vorentoe kan beweeg. Om te weet waarheen jy oppad is, het jy nodig om te weet van waar kom jy.
In ons gejaagde bestaan en daar's-nie-tyd-nie lewe besef ons nie eers dat gaan spore op teer of beton nagelaat kan word nie. Ons is so vasgespin in ons mammon-en-beton bestaan dat wanneer jou lewe wel deur klein modder voetspoortjies op die wit ingevoerde teels en duur langhaar mat gekonfronteer word, dit slegs dit is : konfrontasie, konflik, frustrasie en irritasie.
Waar het ons dit verloor ...?
Voetspore beteken tog inherent hier is al 'n weg gebaan - volg my!
Ons almal het die behoefte om 'n nalatenskap agter te laat, maar wat presies is dit wat ons wil nalaat?
'n Stewige boedel , opgemaak uit rand en sent of voetspore in mense se harte opgemaak uit liefde en omgee?
Ek wil na die somerreen deur die modderpoele spring en uitbundige spore agter laat.
Ek wil in die winter stofpad af huppel en ploffende vreugdespore agter laat.
Ek wil in die lente op 'n lang strand gaan stap en herinneringspore agter laat.
Ek wil vasberade deur die herfs grasruigtes vorentoe en visiespore agter laat om hoop te gee vir die wat volg.
Ek wil saggies in jou hart ronddans en liefdespore agter laat.
Ek wil ...
Ek wil 'n voetspoorlewe leef!
No comments:
Post a Comment