03 February 2010

Reen









'n Absolute wonderwerk - Reen!



Dit was die heel oggend bewolk, maar nie anders as die ander dae nie. Ek het so half gewoond geraak aan bewolk wat net 'n terg is en geen belofte inhou nie, maar nie vanoggend nie ...

Dit was nie donderweer, weerlig, wind of enige iets dramaties wat die gewaarwording van reen teweeg gebring het nie, maar wel daardie kenmerkende grond-reen-reuk. En ek praat nie hier van die hemele wat geopen het nie, net 'n sagte toevou met fyn reendruppels wat skugter hul voete vind op 'n dorre aarde. Glo my, dit was 'n geveg - die son het kort-kort met sy vuiste gate in die wolke geslaan en deur gebeur om vandag vir homself toe te eien, maar my wolke het hul man gestaan. Hulle het net doodeenvoudig laer getrek en die sonkring al hoe kleiner en kleiner toegewikkel totdat die laaste sonstraeltjie weer agter die wolklaag toegesluit is. Om maar net weer met daardie vuisies teen die wolkdeur te hammer, te slaan en te baklei. So het dit die hele dag gegaan, heen en weer, heen en weer. Maar ek het my paar druppels reen gekry.

Vandag het ek 'n klein bietjie genade gevind in 'n paar druppels. Nie baie nie, net bietjie, net genoeg. Vandag kon ek my gesig hemelwaarts draai en vandag kon ek vertroosting indrink met my sintuie. Vandag se paar spatsels het 'n verwagting in my hart geplant van groei, van groen, van lewe ...

Nog 'n stuk genade, GROOT genade, is die feit dat die wind nie gewaai het nie. Vanaand in die windstilte kon ek hoor hoe die sonbesies tot bedaring kom, hoe die tarentale na mekaar roep, hoe die gespikkelde kiewiet wat onder die boom tussen die bosse broei die aand aankondig, hoe al die naggeluide stadig maar seker hul ritme vind.

Ek dink vanaand aan 'n quote van Tim McGraw : "We all take different paths in life, but no matter where we go, we take a little of each other everywhere." Ek weet nie wie van julle is nou die dag saam met my berg uit nie, maar laat ek julle vertel. Dit was een van daardie vasdruk, ingehokte dae en ek moes net uit! So kies ek pad berg se kant toe met 'n swaar, rebelse, bedonderde, hartseer (as jy jouself so iets kan indink). En so in die loop, huil, skel praat en met die Here en vertel Hom dat ek nie gewoonlik die velletjie uitsit-ding doen nie, maar vandag is die dag. Indien daar nog 'n persoon is, al is dit net een, wat dink soos ek, voel soos ek, en met wie ek 'n pad sal kan stap moet hy vandag 'n motor met 'n GP nommerplaat by my laat verby ry - dan sal ek weet daar erens in hierdie plantasie 'n boom soos ek is.

Ek is brullend, stomend, huigend die berg uit - maar geen GP nommerplaat nie, wel kaapse nommerplate van hier tot in die oos-kaap (selfs George), natalse nommerplate, vrystaat ... maar niks Transvaal nie, nie GP nie, nie MP nie, nie N nie, nie NW nie, NIKS!!! Ek kom toe heel moerig en moeg die berg af, en tref spitsverkeer in 'n besige straat - nog steeds NIKS. Met omtrent 7 kilo's onder my sole, afdraend wat kou aan my kuite en 'n gevoel van "hier sterf ek stoksielalleen" sien ek die klein wit RunX met sy GP nommerplaat wat indraai by 'n huis wat 'n restaurant is (later gehoor nogals 'n fancy restaurant), en ek juig! Tussen al die derduisende motors wat by my verby is is daar tog EEN wat die belofte inhou van iemand soos ek, en ironies dat die betrokke motor se "destination" 'n restaurant is.

Amper 10 kilo's later (om presies te wees 9.8km, ek het dit gaan meet, want dit self is 'n wonderwerk) is ek terug by die neutedop, sonskyn op die kroontjie gehad, lekker goeie ou serotenien vrygestel, stoom afgeblaas, en 'n wete daar's nog 'n boom van my soort hier tussen baaaaaaaie ander en dat ek mooi gaan moet uitkyk anders kan ek dit maklik mis. En nog 'n groter les is dat ek nie kan bekostig om moed te verloor nie, toe ek al goed opgeklits en vies was met 'n donker wete van ek is alleen in die ding het die uitkoms gekom. Deursettingvermoee - aanhou, moedhou, aanhou - op regte tyd, op die regte plek. En julle weet, dit is nie my sterk punt nie, ek is die eerste een wat se: "drop dit!".

Ek het vandag 'n paar druppels reen, windstilte sonsondergang, naggeluide en skoon lug in my rugsak gepak om later wanneer die wind waai en die geel gras my voete steek uit te haal sodat ek kan moedhou en aanhou. En volgende keer wanneer ek in Gauteng kom kuier bring ek my grootste reistas saam, want ek wil baie donderweer en bliksemstrale inpak - dink net hoe sal die wind daarvoor skrik!?

1 comment:

  1. WOW, Ronel! Wat 'n seen!! Ek is so bly vir jou dat daar 'n sprankel hoop is ...

    ReplyDelete

voetgangers