01 March 2010

Verklaring



Ek is 'n Kapernaar!

Nee, ek klink nie soos hulle nie. Ek proot nog soos 'n Pretorioner, ek het mos gese "ek is" en nie "ex" nie.

Nee, ek lyk ook nie soos hulle nie, alhoewel die velletjie bruin gebrand is van lekker dae in die son by die see, is dit 'n blink-bruin en vol van al die vetjies ('n rare verskynsel hier).

Nee, ek doen ook nie soos hulle nie. 'n Hoed, tekkies en Ipod en daar trek die drawwende lywe straataf. Ek het 'n hoed, ek het tekkies (kan jy glo Jannie?) en ek het 'n Ipod, maar nie in hierdie funksionele groepering nie.

Nee, ek ry BESLIS ook nie soos hulle nie. Wanneer almal met die padwerke in die stadige baan hou, snel ek heerlik voort in die vinnige baan wat oop voor my le.

Ek is 'n Kapenaar - 'n blote verklaring, nog nie 'n hartsding nie, maar 'n mens moet seker erens begin. En wanneer jy die eerste tree gee kom tree twee, tree drie, tree vier vyf en ses sommer makliker. Voor jy jou kan kry het hy in so 'n mate al vorentoe beweeg dat jy kan agtertoe kyk en wat jy dan raaksien so in die terugkykslag is klomp klein wonderwerkies.

Die vryheid van 'n voertuig.

Die lekkerte van kuiergaste.

Die lees van 'n onverwagse boek met kosbare lewenslesse wat jou hartsuitkyk verander.

Die ontvang in 'n tyd wat jy gegaan het om te gee.

Die padkruising met 'n vreemdeling op die strand wat die mooiste foto's van ons neem en dit e-pos.

Die vind van 'n wonderlike huis en die heerlike voortuitsig wat daarmee saamgaan.

Die skielike besoek van goeie vriende en 'n naweek se kuier, deel en inbou.

Die herstel van geloof.

Die geboorte van 'n perfekte, gesonde baba teen alle waarskynlikheid in.

En so sal ek die pad stap VORENTOE - tree vir tree. Die voete is gewillig om by die tree-vir-tree tempo van die Kaap aan te pas, maar die hart is van 'n anderse stofasie wat nog wil rebeleer, spring, hardloop en 'n klomp stof opskop.

Soos ek gese het - Ek is 'n Kapenaar, 'n voete verklaring, die hart moet nog ingebreek en getem word!

No comments:

Post a Comment

voetgangers